Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Kommando's

 


Dapper Boere weier om inligting te verklap.


Dapper Boere wat selfs voor 'n vuurpeloton geweier het om inligting aan Town Guards te gee skrywe Mnr. Frikkie Aucamp.

Op 10 of 11 Augustus 1901 hoor Middelburg se Town Guards deur middel van hul spioene dat twee rapportryers van die Boere in die omtrek van Moordenaarspoort opgemerk is, vermoedelik op pad na Knoffelsvlei, Nooitgedagt of Vetfontein.

'n Afdeling van die Town Guards word gestuur om hulle te vang, lewend of dood. Toe hulle op Knoffelvlei kom, was 'n kapt. Naudé en 'n kapt. Bruno reeds 'n paar uur voor hul aankoms na Nooitgedagt op pad.

Van die middag van 12 Augustus af begin die agtervolging sonder dat Naudé en Bruno daarvan weet. Van Nooitgedagt af ry Naudé en Bruno oor Vetfontein en kom kort voor sononder op Bergvliet (Telpoort) aan.

Die eienaar van die plaas, Pieter Aucamp, bied slaapplek aan. Hul perde word keurig versorg en in die populierbos deur die oudste seun, Pieter (14), versteek.

Op daardie oomblik nader die afdeling Town Guards die plaas. Laatnag word die afdeling ontplooi en met dagbreek was die plaasopstal omsingel.

Net voor sonop het twee van die seuns, Petrus (11) en Izak (7), in die kraal sowat 150 m van die huis bokke gemelk.

Meteens word die stilte deur 'n salvo geweerskote verbreek. Die twee seuntjies hardloop vir lewe en dood huis toe waar Petrus vir klein Izak by die agterdeur instamp. Op daardie oomblik bars 'n gekletter van geweervuur los en tref die agterdeur. Die verskrikte Petrus, pleks van om ook by die deur in te hardloop, spring om en hardloop om die hoek van die huis agter die bakoond in. Gelukkig sien sy pa hom, gryp hom en trek hom deur die eetkamer venster na binne.

Gedurende die skietery oorhandig Naudéen Bruno die rapporte aan Levina (16), die dogter, om dit te versteek. Dit word haastig in die opening onder die Dover-koolstoof se oond versteek. Die belofte is dat, indien hulle sneuwel of gevang word, Levina en haar suster, Miemie (12), dit sal verbrand en nooit sal lees nie.

Ná omtrent 10 minute se aanhoudende geskiet op die huis besluit die drie mans - die eienaar van Bergvliet, Naudé en Bruno - dat 'n wit laken by die venster en voordeur uitgesteek en gehoor gegee sal word aan die bevel ``surrender''.

Die gesin, asook Naudé en Bruno, beweeg in die gang na die voordeur. Heel voor is Naudé, links agter hom is Bruno. Die skietery word gestaak en weer eens 'n doodse stilte. Naudé steek sy hande op. Net toe hy oor die voordeur se drumpel kom, klap 'n skoot en tref hom op 'n kort afstand op sy bo-lip onder sy neusgate, by sy agterkop uit. 'n Doodskoot.

Hy val vooroor, sy voorlyf op die stoep, sy bene in die gang.

Bruno spring by die deur uit en word deur die Town Guards geskiet. Toe hy val, gryp die manskappe hom. Hy is lig gewond in die bo-been en bloed sypel deur sy broek en loop teen sy kamas af.

Wat 'n toestand op hierdie oomblik. Naudé lê dood in 'n groot plas bloed, die huismense verskrik en nou die bevel aan Bruno: "Oorhandig jul rapporte of jy en die eienaar van hierdie plaas word summier hier voor almal tereggestel.''

Bruno weier, en hy en Pieter Aucamp word op twee stoele gesit om doodgeskiet te word. Tien Town Guards neem posisie in om die twee te fusilleer.

Weer eens die vasberade antwoord: ``Nooit!''

Die bevelvoerder kom staan langs Naudé en Aucamp, hand in die lug en begin tel: ``Een, twee, drie'' - geen skote, maar Bruno en Aucamp word van hul stoele af geklap.

Albei se hande wat agter hulle rug vasgemaak was, word losgemaak. Bruno se perd word vir hom gebring, waarop hulle met hom daar weg is op pad na Middelburg.

Aucamp kry die bevel om nie vir Naudé te begrawe nie, want, sê die bevelvoerder, hulle is nog glad nie met hom (Pieter) klaar nie.

Dit is Dinsdag 13 Augustus 1901. Die plaas is stil. Die Town Guards streep die pad teen die vaal rand uit en verdwyn tussen die ysterklip koppies. Naudé se lyk word versorg en na die waenhuis gebring. Onmiddellik word die graf gegrawe, wat vroegaand klaar was. Teen sonsondergang word Naudé met eer begrawe.

Sondagmôre 18 Augustus terwyl Aucamp, sy gesin en enige vriende met godsdiens besig was, hoor hulle perdepote klap en 'n paar bars bevele buite.

Aucamp word onmiddellik buitentoe beveel en meegedeel dat hy 'n bevel verontagsaam het deurdat hy Naudé verwyder het. Toe Aucamp hom meedeel dat hy hom die Dinsdagaand begrawe het, was daar amper weer 'n soortgelyke toneel as die Dinsdag. Die Town Guards het die huis binnegegaan en die Gesang- en Psalmboeke voor die verskrikte vroue en kinders rondgegooi.

Ná omtrent 'n halfuur se onbehoorlike vernielsug, die bevel dat almal weer voor die huis bymekaar moes kom. Aucamp word gevange geneem, op 'n perd gesit en saam met die Town Guards na Middelburg se tronk gebring waar hy ses maande gevange gehou was. Die rede: dat hy 'n bevel verontagsaam het deur Naudé te begrawe, rebelle gehuisves het en sy weiering om rapporte te oorhandig.

In 1930 was Petrus Aucamp (die 11-jarige in die tragedie) as afgevaardigde van Middelburg op 'n landbou-kongres in Somerset-Oos. Met die eerste teepouse kom 'n man na hom en vra of hy van die Aucamps van Telpoort (Bergvliet) is. Op 'n bevestigende antwoord sê die man toe dat hy Bruno is.

Ná 29 jaar vertel Bruno die verhaal asof dit gister gebeur het en gee 'n hele relaas van sy ontsnapping daardie nag.

Sy plan om te ontsnap was 'n groot risiko. Om as dit donker was, sy perd meteens uit die afdeling Town Guards se perde te ruk, spoor te gee en weg te ja. Afgesien van om geskiet te word, was slote en gate 'n wesenlike gevaar. Tog was sy poging 'n sukses.

By die eerste plaas, Schoombeesklip, was 'n gulde geleentheid, maar dit was toe nog te lig en hy nog 'n te duidelike teiken. Van Schoombeesklip af beweeg die afdeling met 'n dowwe veldpaadjie na Rosmead. Op die volgende plaas Vleipoort besef hy dit is nou of nooit en bemerk in die dowwe maanlig bosse. Hy was baie moeg, sy been baie seer, sy lyf styf en hy verskriklik dors.

Hy meen ook dat die afdeling Town Guards oorgerus was, want hy het die indruk gewek dat hy enige tyd van sy perd kon val. Onverwags ruk hy sy perd tussen die ander perde uit en jaag die donkerte in.

Die verwarring onder die Town Guards is erg. Party wil hom vang, ander wil skiet en van albei gebeur niks.

Dié wat wil skiet, kan nie, want vermoedelik was daar ander wat hom wou injaag. Heelwat skote is geskiet, maar vermoedelik in die lug.

Teen dagbreek kom ek weer op Moordenaartspoort uit, maar nou van 'n ander rigting. Ek bespied alles op die werf noukeurig en tot my vreugde is dit die Venters van Moordenaarspoort. Hier word ek hartlik verwelkom en word ek en my perd drie dae liefderik versorg. Met dagbreek van die vierde dag kry ek koers. Die mikpunt was weer na 'n kommando tussen Noupoort en Colesberg. Ek vorder versigtig tot by Henningsfontein van ene Gert van der Walt, waar ek net so hartlik ontvang is. Alle beskikbare plek op my perd word met vars biltong en beskuit volgemaak. Daarvandaan na Oorlogspoort waar ek 'n sterk kommando kry by wie ek die res van die oorlog gebly het tot en met die vrede in Mei 1902.''

Die volgende ooggetuies het die gegewens aan die opsteller van dié artikel verstrek. Op 'n geleentheid in 1938 was almal bymekaar om die gegewens te kontroleer. (Ongelukkig was die vader, Pieter, en sy vrou reeds oorlede - onderskeidelik in 1912 en 1933 - oupa en ouma): Levina wat die rapporte versteek het (tante), Miemie, haar suster (tante), Pieter wat die perde versorg het (oom) en Petrus wat die bokke gemelk het (vader). Izak is in 1921 oorlede.

 

Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Gedigte