Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Kommando's

 


Tannie in die kamp maar moeilik.


Die verhaal van 'n ondeunde, moeilike, Vrystaatse tannie is deur mev. Sara Jansen vertel.
'n Oorlaaide wa vervoer moeisaam sy vrag, maar ook 'n groep opstandige vroue oor die Vrystaatse vlakte. Om hul ergernis nog te versterk, word hulle deur 'n groep parmantige Rooinek-offisiere begelei.
Hulle was een van die selfonderhoudende swerwende groepe wat op bevel in een van die kampe'' geplaas moes word. Kan jy glo, omdat hulle sogenaamd onversorg op die plase agtergelaat is.

Die wa beweeg sukkelend voort, maar die Boervrou se brein is alles behalwe sukkelend. Sy steek eers die domkrag weg. Daarna trek sy tussen die Rooinekke se rooi neus en ore die luns van die agterste wiel uit. Voordat die wiel 'n volle wenteling kan maak, val dit uit die as. Die Tommies sukkel swetsend in die rooi taal, want hul liggaamlike kragte kom maar kort.

Die lug bly maar "rooi'' gekleur. Ná 'n tydjie tref dieselfde ramp op dieselfde wyse die voorste wiel ook.
Met die aankoms by die Grootrivier se kamp, was die lewe ook hier redelik stormagtig en met tye opruiend. Dit was nie sonder rede nie, want kos is dikwels by die rivier aan die Boere verskaf.

Die lywige tannie het dikwels toegesien dat die gemoedere van die vyand ontstig word. Soos dit hulle pas, hef hulle met tye die Vrystaatse volkslied uit volle bors aan. Gewoonlik by die wasplek.
Die hanskakies wat oor hulle moes toesig hou, moes gereeld onder hul gramskap deurloop. So is hulle deur hul leier opdrag gegee om hul vuil wasgoed water te behou. Die tannie gee haar bevel en die hanskakie word uit alle rigtings met vuil seepwater bestook.
Die saak moes met tronkstraf opgevolg word.
Haar antwoord: "Ek loop nie 'n tree nie.''

Die drama begin toe die hanskakies met 'n kruiwa op die toneel verskyn. Met moeite laai hulle die lywige liggaam op terwyl sy haar slap hou. Almal is gereed dat die prosessie kan begin. Meteens gee sy haar lyf na 'n kant mee en die kruiwa tuimel onder sy vrag neer.
By die aanskoue hiervan was van die vroue heelwat gebelg, terwyl die ander skaterlag. Die uiteinde van die saak was dat die aftog geblaas is en die saak net daar gelaat is.

 

Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Gedigte