Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Kommando's

 


Anglo Boereoorlog boeke in Tweede Wêreldoorlog verbied.

Tydens die Tweede Wêreldoorlog het die indertydse eerste minister, veldmaarskalk Jan Smuts, hom groot onmin op die hals gehaal toe hy verskeie boeke oor die Anglo-Boereoorlog verbied het, maar toegelaat het dat kommunistiese lektuur die land instroom.

Dié spotprent deur T.O. Honiball het op 4 April 1942 in Die Burger verskyn. Dit toon Smuts met boeke en pamflette oor die kommunisme in die hand, terwyl sy eie publikasie, 'n Eeu van onreg, by sy broeksak uitsteek. Die onderskrif lui: ``Dis reg, Harry, veeg daardie ou Boereoorlog stories uit sodat ons kan plek maak vir hierdie vreedsame leesstof.'' Genl. Louis Botha het ook in 1917 'n Anglo Boereoorlog boek verbied.

Dit was verbaas dat dit die eerste keer is dat 'n Afrikaanse boek so 'n skemer lewe moes begin nie. Die titel wat aan my genoem is, was Helkampe deur Ewald Steenkamp.
Toe ek onlangs verneem dat Bienedell-uitgewers van Pretoria dié boek opnuut uitgee, het ek dit bestel. 'n Gesprek met dr. J.C. (Jaap) Steyn van Bloemfontein het my gelei na die publikasie Boeke wêreld, waarin hy op die verbod ingaan.
Die Smuts regering moes met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog ewe onseker van sy posisie gewees het as die NP-regering van die jare sewentig. Steyn noem dat `` 'n deel van die Afrikaanse skryfwerk by die owerheid onder verdenking was''. Oproerige soldate het trouens die kantore van Die Vaderland op Sondagaand 1 Februarie 1941 bestorm en verwoes.
Nie alleen Steenkamp se boek nie, maar ook etlike ander publikasies oor die Anglo-Boereoorlog het uiteindelik onder die valbyl beland. Reeds in 1939 het speurders ondersoek ingestel na 'n Heldedag viering deur die Vryburgse kultuur vereniging. Die aanleiding was blykbaar 'n simboliese voorstelling in silhoeët van twee vroue in Voortrekkersdrag knielend by 'n konsentrasiekamp graffie terwyl 'n koor Slaap rustig, dapper helde gesing het.

Die eerste boek wat dit moes ontgeld, was J.A. Smith se Ek rebelleer! wat in 1939 by Nasionale Pers verskyn het. Smith, toe assistent-kommandant-generaal van die Ossewa brandwag en ook redaksielid van Die Burger, vertel hierin van sy ervarings as Kaaplandse skoolseun wat hom in die Anglo-Boereoorlog by kmdt. Gideon Scheepers se kommando aangesluit het. Die boek bied getuienis van hoe die besetting soldate uit Brittanje deur hul arrogansie Kaapse Rebelle gekweek het uit andersins rustige Brits-koloniale onderdane.
Die bevelvoerder in Aberdeen, waar Smith as 14-jarige op skool was, het dit selfs in sy hoof gehaal om hom en 'n paar maats "fatigue duty'' op te lê omdat hulle nie op sy bevel met oorgawe God save the Queen wou sing nie. Hulle moes smiddae bossies uitkap rondom die forte buite die dorp.
Die boek het 'n goeie resensie van onder andere die bekende joernalis Frederik Rompel ontvang en het blykbaar flink verkoop. In 1941 stuur die sekretaris van die Port Elizabethse skoolraad, P. Armstrong, egter 'n omsendbrief aan skoolhoofde in sy streek waarin hy in opdrag van die militêre owerheid eis dat alle eksemplare van die boek uit skoolbiblioteke verwyder en aan hom gestuur moes word. Dit sou geskied kragtens 'n regulasie dat boeke wat aan enige deel van die gemeenskap aanstoot kan gee, nie deur skole gekoop mag word nie.

Op vrae in die Volksraad het dit uiteindelik geblyk dat die militêre owerheid geen opdrag van dié aard gegee het nie en dat die voorsitter van die skoolraad, Albert Jackson, eie reg gebruik het. Drie boeke is egter wel in dié tyd verbied: Manie Maritz se My lewe en strewe, G. Jordaan se Só het hulle gesterf en Steenkamp se Helkampe.
Maritz se boek het in 1939 verskyn en die oplaag is taamlik gou uitverkoop. Toe 'n tweede druk ná sy dood (in 1940) in voorbereiding was, is dit vir die duur van die oorlog verbied omdat dit, na Die Burger berig het, "een deel van die bevolking teen die ander ophits''.
Die omstrede Maritz-boek (nou eweneens opnuut uitgegee deur Bienedell-uitgewers) bevat 'n hoogs interessante oorsig van sy betrokkenheid by die Anglo-Boereoorlog en die Rebellie. Eersgenoemde is veral interessant as 'n mens dit plaas naas sy gewese strydmakker in Noord-Kaap, Deneys Reitz, se Kommando (1929). Wanneer Reitz se boek verskyn, is hy en Maritz lankal in twee verskillende politieke kampe. 'n Mens kan jou dit trouens afvra of Kommando nie eweseer die politieke oogmerk gehad het om te toon dat ook die Verenigde Party oor oorlog helde in leier posisies beskik.
Maritz, wat ná die Rebellie van 1915 lank in Duitsland gewoon het, se boek bevat egter 'n bylae wat deurdrenk is van anti-Semitisme. Hy is daaroor aangekla en tot 'n boete van 75 pond of nege maande gevangenisstraf veroordeel.
'n Jaar later is toegeslaan op die ander twee boeke, Helkampe en Ek rebelleer! Beslag is gelê op alle eksemplare ingevolge 'n noodregulasie wat so iets verorden vir publikasies met inligting "wat gebruik mag word om die landsverdediging te strem'' (Die Burger).

Steenkamp gaan in die voorwoord tot sy Helkampe al onmiddellik in op die probleem van "ophitsery'' en benadruk dat dit "beslis nie bedoel (is) om rassehaat aan te wakker nie''.
Een punt wat hy herhaaldelik opper, is dat dit vir hom daarom gaan om "die gruwels van oorlog en wie werklik daaronder ly, te openbaar''. Hy stel hom dus op die standpunt van pasifisme.
Die boek word 'n bloemlesing van wandade teen vroue en kinders, soos hoofstuk titels onder meer aandui: "Sanitêre skandaal'', "Staalhoeke in blikkies vleis''en "Meisies in draadhokke''.

Terwyl die inhoud sekerlik wetenswaardig en onthullend is, is Steenkamp se pogings om die boek toeganklik vir 'n breë publiek te maak amateuragtig. Dieselfde kan seker gesê word van 'n owerheid wat daarvoor geskrik het.
Gert Jordaan se boek was slegs 'n vertaling van sy Hoe zij stierven, wat al in 1914 verskyn het. Die newe-titel lui: "Laaste ure van diegene oor wie die doodvonnis uitgespreek en voltrek is in die Kaapkolonie gedurende die oorlog van 1899-1902''.
By 'n tweede (Nederlandse) uitgawe is die einde van "nog twee van ons helde'' toegevoeg: die slagoffers van die 1914-Rebellie, genl. C.F. Beyers en kmdt. Jopie Fourie.

Miskien het die skrywer se uitspraak oor die regering se destydse besluit om die Duitse kolonies binne te val nou pas een wêreldoorlog later seergemaak.
Ook die Afrikaanse vertaling van mev. Alida Badenhorst se oorlog dagboek (reeds in 1922 in Engelse vertaling uitgegee deur Emily Hobhouse), Tant Alie van Transvaal, is 'n tyd lank verbied, maar dit is ná protes opgehef.
Reeds vóór die oorlog is egter al geroep om 'n verbod op 'n Afrikaanse boek oor Britse oorlog wandade. Dit was Sarah Raal se Met die Boere in die veld (1938).
Steyn behandel die kwessie uitvoerig in sy boek Trouwe Afrikaners (1987). Die eerste aanval is gedoen deur The Cape Argus op 19 September 1938, die dag waarop verrigtinge van die simboliese ossewatrek in Kaapstad begin het.
'n Enorme polemiek het gevolg waaraan van die vernaamste Engelse en Afrikaanse koerante deelgeneem het. Die verkoop syfer van die boek het die lug ingeskiet en Steyn meen dié werk was moontlik een van die klein faktore wat die oplewing van nasionalisme in daardie jaar aangewakker het.
In 'n onderhoud met The Cape Argus hou sy voet by stuk oor die egtheid van haar weergawe en voeg toe: ``Enigeen het die reg om boeke uit te gee en niemand kan hom daardie reg ontsê nie.'' Dit is 'n glashelder uitspraak waarmee 'n mens vandag steeds graag 'n verhaal oor sensuur afsluit.

 

Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Gedigte