Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Kommando's

 


Tafel was gedek vir Boere wraak, volskaalse rassekonflik.


Die inval van die Boere in Noord-Kaapland in die Anglo-Boereoorlog het nie net op militêre gebied min positief opgelewer nie, maar het ook rasseverhoudinge ernstig versteur. Die teregstelling van vier burgerlikes deur die Britte vroeg in Maart 1901 op grond van valse getuienis van gekleurdes, het rasseverhoudinge byna tot breekpunt gedryf in gebiede wat die Boere binnegeval het.

IN al vier gevalle was die getuienis van gekleurdes deurslaggewend in die skuldigbevinding van die burgerlikes wat nie eens die wapen opgeneem het nie. In hul oorhaastigheid om teregstellings as afskrikmiddel vir die Kaapse rebelle aan te wend, het die militêre owerheid die valse getuienis van gekleurdes gebruik om die burgerlikes tereg te stel nog voordat die wet wat teregstellings magtig, op die wetboek geplaas is.

Die verhouding tussen die Boere en gekleurdes was van die begin van die oorlog af gespanne omdat die gekleurdes oorwegend pro-Brits was. Die Boere het die oorlog as 'n witman oorlog beskou en het nie gekleurdes as oorlogvoerende party erken nie. Hoewel die Britte dié beginsel aanvanklik ook stilswyend aanvaar het, was die militêre owerheid spoedig weens 'n tekort aan mannekrag onder groot druk om die groot bruin bevolking in Noord-Kaapland te gebruik. Die toestand het net 'n vonk nodig gehad om 'n volskaalse rasse oorlog in Noord- en Noordwes-Kaapland te ontketen.

Die teregstelling van Charel en Petrus Nienaber en Jan Nieuwoudt in De Aar op 19 Maart - gister 'n eeu gelede - het gespruit uit 'n aanval van lt. (later genl.) Wynand Malan op 18 Februarie op 'n trein tussen Hanover en De Aar. Toe Malan kort ná genl. C.R. de Wet se inval in Kaapland van die hoofmag afgesny raak, het De Wet hom opdrag gegee om suidwaarts deur te breek en spoorverbindings te ontwrig.

Sy klein kommando van 25 man het 'n trein op 'n donker nag in gietende reën op Taaibos halte ontspoor. In die daaropvolgende geveg het van die swart soldate op die trein gesneuwel en ander is beroof. Drie transportryers wat op 'n naburige plaas oornag het, is van medepligtigheid aangekla. Hulle is skuldig bevind aan moord en in De Aar tereggestel op grond van getuienis van gekleurdes wat hulle in die donker nag by die skermutseling sou geïdentifiseer het.

Ná die oorlog is 'n sleutel getuie vir die staat van meineed aangekla. In sy verhoor het Malan onder eed verklaar dat die veroordeeldes nooit deel van sy kommando uitgemaak het nie en dat hy hulle nog nooit gesien het nie. Die Britse regering moes gevolglik vergoeding aan hul weduwees betaal. Op die drie se grafsteen in Hanover staan geskryf: ``Onschuldig ter dood veroordeeld door een militaire hof.''

Hendrik van Heerden, 'n boer van Middelburg, is in 'n hinderlaag ernstig gewond deur Boere-skerpskutters. Twee Britse soldate is in dieselfde voorval lig gewond. Dit het plaasgevind toe lede van genl. Pieter Kritzinger se kommando die Britse verkenners voorgelê het terwyl hulle Van Heerden verplig het om hulle as gids te begelei.
Die Britte het Van Heerden verdink dat hy die verkenners opsetlik in die hinderlaag gelei het, al is hy self deur sy eie mense gewond. Hy is in sy afwesigheid verhoor en op grond van 'n swart spioen se getuienis ter dood veroordeel. Hy is uit sy huis gedra en gefusileer terwyl hy nog swaar gewond was.

Ook Van Heerden se teregstelling is gedoen nog voordat die wet wat teregstellings gemagtig het, op 12 April van krag geword het. Nadat Kritzinger eers op 26 Maart van Van Heerden se teregstelling gehoor het, het hy op 3 April 'n swart nuusdraer wat gevang is, laat teregstel. Dié teregstellings was die eerstes van 'n vlaag om rebelle die skrik op die lyf te ja. In talle hierna is die getuienis van gekleurdes teen die Boere gebruik en skuldigbevindings het op die bedenklikste gronde berus. Die tafel was gedek vir Boere wraak en vir 'n feitlik volskaalse rassekonflik.

 

Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Gedigte