Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Kommando's

 


Die soet en suur van gevangeskap op Bermuda en die vreugde van vrede.


Ná 'n lang treinreis uit die Noordoos-Kaap het die 36 rebelle gevangenes van die kommando's van Kommandante Hans Lötter en Van Reenen in Durban aangekom. By hulle was Christiaan en Andries Kruger van Klipfontein, Venterstad.

Hulle is na die SS Montrose geneem. Toe kommandant Dirk van Deventer van die ZAR, een van die krygsgevangenes aan boord, die 36 geboeid sien, het hy vir die kaptein gesê hy waarborg persoonlik dat die manne hulle sal gedra. Die boeie is losgemaak en hulle is nie opgesluit in selle wat vir hulle ingerig is nie. Die rebelle het dit baie waardeer.

'n Masel-epidemie het op die skip uitgebreek waaraan 23 krygsgevangenes gesterf het. Hulle het ook geweldig las gehad van luise. Vier dae nadat hulle uit Durban vertrek het, het hulle in Kaapstad aangekom, maar hulle mag nie op die dek verskyn het nie. Hulle vaar toe verby die Kaap Verdiese Eilande waar hulle naby Britse oorlogskepe vasgemeer het. Toe 'n orkes op een van die skepe Home Sweet home speel, het menige krygsgevangene trane afgevee.

Dit was 'n sonnige Sondagmiddag toe die Montrose op 13 September 1901 ná 27 dae met 932 krygsgevangenes aan boord vasmeer. Nadat die krygsgevangenes op Morgan-eiland afgelaai is, is die rebelle weer geboei. Die boeie is net afgehaal wanneer hulle moes werk. Ná agt dae is hulle na die tronk op St. George-eiland gebring, waar hulle kans gekry het om hulle in die badkamer te was en te ontluis. Daarna het hulle skoon klere gekry.

Gevangenes is verbied om te lag of met mekaar te praat. 'n Dag nadat hulle in die tronk aangekom het, is aan elke gevangene tou gegee om te pluis. As die werk nie klaar was nie, is die volgende dag se kos verminder.
Die eerste twee weke was die bewaarders nie te streng oor hoeveel werk gedoen is nie, maar daarna is dié wie se werk nie klaargekom het nie, gestraf. Ná twee weke op St. George is Christiaan alleen in 'n sel geplaas totdat hulle na Hawkins-eiland oorgeplaas is.

Ds. J.R. Albertyn het Dinsdae godsdiens gehou. Dit was vir die gevangenes 'n aandoenlike ervaring. Terwyl Albertyn buite gestaan het, moes die gevangenes agter doringdraad onder die afdak staan.
Albertyn het by die rebelle die adresse van hul familielede in Suid-Afrika gekry en self briewe aan die mense tuis geskryf om hulle in te lig hoe dit met die gevangenes gaan. As hy antwoord ontvang het, het hy dit in sy boodskap ingewerk. Hoe hy alles onthou het, was vir die gevangenes 'n raaisel.

Eendag het die sipier Christiaan berispe omdat sy tou nie fyn genoeg gepluis was nie. Hy het die volgende dag net water en brood gekry. Nog 'n gevangene het dieselfde straf gekry en is saam met Christiaan opgesluit. Toe kon Christiaan nuus van Andries en ander gevangenes kry. Die 36 rebelle was vier maande op St. George-eiland voordat hulle na Hawkins-eiland oorgeplaas is. In dié kamp was reeds 200 ander rebelle wat ná die 36 gevang is. Hulle het waarskynlik op 20 Desember 1901 met die Harlech Castle daar aangekom.

Die 36 verneem toe die nuus van die nederlaag van Lötter se kommando by Paardefontein in die Tandjiesberg toe die 9th Lancers van kol. Harry Scobell hulle verras het. Lötter en Willie Kruger, wat goed aan Christiaan en Andries bekend was, is in Oktober 1901 tereggestel.
Sedert hul aankoms op Hawkins-eiland moes die gevangenes in spanne handearbeid doen. Elke span is deur drie Britse soldate opgepas. Die eerste oggend het sers. Dick Lawson sy groep bymekaar geroep op 'n plek waar ander hulle nie kon sien nie. Hy het gesê die drie bewaarders wil nie hê die gevangenes moet hulle doodwerk nie, maar hulle moet in hul pasoppens wees vir die offisiere.

Die gevangenes het van die wagte byname soos Witsnor en Ponie gegee. Van die wagte by van die ander groepe het nie so goed met die gevangenes gewerk nie. Een, met die van Bull, en 'n ander, bekend as Hansduiwel, het volgens Christiaan sleg met die gevangenes gewerk. Ds. A.J. van Blerk skryf in Op die Bermudas beland sommige wagte het die gevangenes só met swaar werk gedryf dat dit breuk operasies en hospitaalbehandeling tot gevolg gehad het. Teen die einde van 1902 kon van die kolonialers nie meer dwangarbeid doen nie.

Daar was darem ook tyd vir grappe. Christiaan vertel hy en Albert van Heerden het op 'n dag naby mekaar gewerk toe hy opmerk dat Albert sy kruiwa baie swaar laai. Op Christiaan se vraag waarom hy dit doen, sê Albert hy wil sien hoe sterk die kruiwa is. Baie gou was die kruiwa se as af. Christiaan het dieselfde met syne gedoen. Toe die ander hul voorbeeld volg, was die 11 beskikbare kruiwaens se asse ook spoedig af.
Die wag beveel hulle toe maar om die stukkende kruiwaens terug te neem na die pakhuis.

Op 'n dag het 'n skip 100 vate sement daar aangebring. Die rebelle moes dit aflaai en teen 'n steilte uitrol. Toe sowat 30 vate teen mekaar in 'n ry was, los die voorste gevangenes hul vate. Die ander het geen keuse gehad as om ook te laat gaan nie en so het 30 vate sement in die see beland. Die Kakies het geraas, maar kon niks doen nie. Die res van die aflaai proses het goed verloop, behalwe dat een vat in die water opgaartenk geval het. Weer is met hulle geraas en Vosloo, die grapmaker, sê toe dis die rebelle se manier om die Kakies vir die werk te laat betaal.

Op 1 Junie 1902 kon die rebelle gevangenes hoor hoe die krygsgevangenes aan die anderkant van die eiland hoera skree en volksliedere sing. Die aand toe die sersant (bekend as Goormaag) aankondig dat vrede aangebreek het, het die gevangenes dadelik met die volkslied weggeval. Die sersant en sy gevolg is woedend daar weg. Die volgende oggend het die sersant, dié keer gewapen, aan die gevangenes gesê dat hoewel dit vrede is, hulle nie vry is nie en wanordelikheid soos dié van die vorige aand nie geduld sal word nie.

Hulle het weer die volkslied gesing, maar is nie gestraf nie. Hulle het tog gehoop dat die republieke hul onafhanklikheid sou behou, maar briewe uit Afrika het bevestig dat die oorlog verloor is.
Eendag het die sersant kom vra of daar nie messelaars onder die gevangenes is nie - die begraafplaas van die krygsgevangenes moes netjies gemaak word. Christiaan en Andries van Zyl bied hulself toe aan al het hulle nog nie vantevore messelwerk gedoen nie. Hulle kry toe 26 helpers.

Elke graf het bestaan uit 'n voetstuk met 'n steen van gesaagde koraalsteen waarop die oorledene se naam aangebring is. Die graveerder was Rooi Faan van der Merwe. 'n Muur is om die begraafplaas gebou en 'n gedenknaald op 'n voetstuk opgerig waarop die name van die gestorwe krygsgevangenes aangebring is. Daar was 35 grafte.

Intussen is begin om van die krygsgevangenes te repatrieer. Die onversoenbares was vir die owerheid 'n probleem. Hulle het die aflegging van die eed van getrouheid aan Brittanje deur ander gevangenes kalkoen eet genoem en dié wat die eed afgelê het, is die blinkes genoem omdat hul broeke blink gesit was op die klippe soos hulle gewag het vir 'n skip om hulle te kom oplaai. Toe 'n brief van genls. Louis Botha en Koos de la Rey deur lt.kol. A.R. Liscombe aan die krygsgevangenes voorgelees is, is die leser met dawerende gelag begroet.
Goewerneur Geary kon ook nie beter vaar nie.

Later het die rebelle op Hawkins-eiland tog besluit om 'n versoek tot die Britse koning, Edward VIII, te rig om hulle met sy kroning op 9 November 1902 vry te laat. Hulle het hul versoekskrif aan Geary gegee, wat dit aan die betrokke owerhede gestuur het. Spoedig het die antwoord gekom: 'n Kommissie sou aangestel word om die saak te ondersoek. Die verslag het gelui dat die straf van die rebelle verander sou word na drie jaar gevangenisstraf, wat bereken sou word van die dag dat hulle gevange geneem is. Hulle sou ook so gou moontlik teruggestuur word na Suid-Afrika waar die regering moes oordeel of hulle verder gestraf moes word. Daar is aanbeveel dat hulle vrygelaat word.

Die krygsgevangenes het hulle by die onvermydelike neergelê en teruggekeer. Einde Januarie 1903 het 291 mans, onder wie Christaan en Andries, Bermuda aan boord van die Sunda verlaat. Dit was warm met hul vertrek en die see taamlik onstuimig. Christiaan skryf dat net hy, Andries en drie ander nie seesiek geword het nie. By Sáao Vincente, by die Kaap Verdiese Eilande, het die skip voorraad opgelaai. Die aand voordat hulle vertrek het, het hulle Max Teinert van Breslau in Duitsland, deur die toilet in die see laat afsak. Hy het na die land geswem waar hy 'n skip na Duitsland gekry het.

Teinert het hom saam met Willie Steyn en sy maats by die Boere aangesluit. Steyn, Piet Botha, Louw, George Steytler en Ernst Hausner het van die SS Catalonia in die hawe van Colombo by Ceylon na die Russiese skip Cherson geswem. Hulle was later as die Vyf Swemmers bekend. Hulle is deur Rusland en Duitsland (waar Teinert hom by hulle aangesluit het). Daarna het hulle met die Aline Woermann na Swakopmund gevaar vanwaar hulle deur Duitswes is om hulle weer by die Boere aan te sluit. Teinert is spoedig gevang en tot sewe jaar dwangarbeid op Bermuda gevonnis.

Eers naby Kaapstad, toe name afgelees is, het die wagte agtergekom dat Teinert ontsnap het. Die gevangenes is van die hawe in oop treintrokke na Retreat-stasie vanwaar hulle na die Tokai-gevangenis moes marsjeer.
Daar het Christiaan en Andries se pa hulle besoek. Hy was so bewoë dat hy skaars kon praat. Onze Jan Hofmeyr het hulle kom toespreek en gesê hulle sal so gou moontlik vrygelaat word, maar dat hul vir vyf jaar nie stemreg het nie. Einde Maart 1903 is hulle vrygelaat en het hulle na Retreat-stasie gestap vanwaar hulle per trein na Steynsburg vertrek het. Dit was vir hulle vreemd om ná 21 maande weer onbewaak te wees.

Twee dae later het hulle op Steynsburg aangekom. Die stasie was vol mense en van Vrydag tot Maandag is hul terugkeer met 'n groot fees gevier. Andries is in Oktober 1905 saam met die Venter-trek in die Highland Fling na Argentinië. Hy is daar getroud en het die plaas Werk en Hoop, sowat 100 km van die hawestad Comodoro Rivadavia af, aangelê en tot sy dood in September 1928 daar geboer. Christiaan is in 1905 getroud. Ná sy vrou se dood in 1915 het hy ook besluit om na Argentinië te gaan. Weens die Eerste Wêreldoorlog kon hy eers in 1918 gaan. Hy het die plaas Boshoek, langs die pampa Pelaka en naby Andries in die omgewing van Chubut, gekoop. Nadat hy 30 jaar lank daar met wolskape geboer het, het hy die plaas verkoop en in Mei 1948 na Suid-Afrika teruggekeer. Hy is in die ouderdom van 89 in Burgersdorp oorlede.

 

Ons Boere Se Trotse Geskiedenis

 

 

Boere Stories, Staaltjies en Gedigte